Vas & Gebed 

Sleutels wat Skatkamers Oopsluit

Mattheus 5:6 sê:
"Geseënd is die wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word."

In ons Vas & Gebed Bediening glo ons dat vas en gebed een van die kragtigste geestelike sleutels is wat God se skatkamers van genade en deurbraak oopsluit. As volgelinge van Jesus Christus loop ons in Sy voetspore, en net soos Hy wat sonder sonde was gevas en gebid het, so glo ons dat daar KRAG IN VAS & GEBED is.

Ons leer uit die Woord van God en ons doen wat Hy ons leer: wat Hy sê, sê ons; wat Hy doen, doen ons. Deur vas en gebed bou die Here ons karakter, lei Hy ons tot groter afhanklikheid van Hom en versterk Hy ons geloof.

Voordele van Vas:

Vas leer jou om ou gewoontes af te lê en selfdissipline te ontwikkel.
Dit lei ons om meer tyd in die Woord van die Here en gebed deur te bring.
Vas versterk ons verhouding met God en laat ons Sy teenwoordigheid op ‘n dieper vlak ervaar.
Dit bou geloof, vertroue en afhanklikheid op God.
Vas help ons om gefokus te bly op die Here, op lofprysing en die Woord, wat ons innerlik versterk.
Dit is ons geestelike wapen in die oorlog van lig teen donker, omweef met ure van gebed.
Voorbeelde van Vas in die Bybel:

Die Nineviete het gevas om hulle berou oor sonde te wys (Jona 3:7-8).
Koning Dawid het gevas toe sy babaseuntjie ernstig siek was (2 Samuel 12:16).
Jesus het gevas in die woestyn as voorbereiding vir Sy sending (Matteus 4:1-2).
Paulus het gevas tydens sy dramatiese bekering (Hand. 9:8-9).
Die gelowiges het gevas voordat belangrike besluite geneem is (Hand. 13:3; 14:23).
Die weduwee in Lukas 2:37 het God dag en nag gedien met gebede en vas.
Watter tye vas ons? Ons vas soos die Gees van die Here ons lei en soos daar spesifieke behoeftes opkom. Deelnemers kan inskakel soos hulle voel, en ons skep 'n WhatsApp-groep vir elke vasperiode waar ons bid en deel. Na afloop van die vas, sluit ons die groep.

Waarom Vas & Gebed? Omdat daar tye is wanneer ons dieper moet gaan – wanneer ons onmoontlike situasies voor die Here bring en Hom vertrou vir goddelike deurbraak, genesing, en oorwinning. Mattheus 17:21 sê:
"Maar hierdie geslag gaan nie uit, behalwe deur gebed en vas nie."

Ons vertrou dat die Here hierdie passie ook in jou hart sal aansteek om deel te word van ons Vas & Gebed Bediening. Kom sluit aan en ervaar die wonderwerke wat God doen deur toegewydheid aan gebed en vas.